top of page

Kom ons probeer weer... (vir die 3de keer)

  • Nov 12, 2025
  • 5 min read

Ek het al my vorige blogplasings verloor - elke gedagte, elke letter, elke refleksie wat ek in die Spoons of Bez ruimte losgelaat het. Ek gaan nie jok nie, my hart is seer. Daar is iets baie persoonlik daaraan om woorde te verloor wat eens reg uit jou hart gekom het.


So hier is ’n nota aan myself (en dalk ook aan jou):

Maak rugsteunkopieë (backups) van alles - nie net van lêers nie, maar van herinneringe, oomblikke en woorde.


Dit is nou al amper ’n jaar vandat ek hierdie spasie weer begin het - vol opgewondenheid en hoop. My laaste plasing was in Januarie, maar toe… het die lewe gebeur. Dit het weer die oorhand gekry, soos dit soms doen. Maar nou, soos ek nader aan 30 beweeg, voel ek hierdie vasberadenheid in my opkom - ek wil regtig hê hierdie blog-ding moet werk. Om op te daag, om te skryf, om iets eg te bou.


Ek weet jy gaan dalk nou jou oë vir my rol. “Marné, jy het al soveel keer probeer om weer te begin”. Ja ek weet, maar soms is dit presies wat die lewe van jou vra: om aan te hou probeer.


Ek onthou daardie dag verlede jaar toe alles so swaar gevoel het. My doenlys was langer as die ure in die dag. My voete het gebrand op die pad gansdam toe, en baba Amé het klein en perfek in haar stootwaentjie onder die wilgerboom gelê, met die wind wat deur die blare gefluister het. Ek onthou hoe ek gedink het: “Ek is super oorweldig. Ek weet nie hoe ek by alles gaan byhou nie.” Maar ek het. Iewers. Met Genade.


Die Brief

Net voordat ek na kraamverlof weer begin werk het, het ek ’n brief geskryf - een wat ek hier op Spoons of Bez gepubliseer het. Daardie brief het baie vir my beteken, dit was ’n manier om my voete te plant in ’n seisoen wat gelyktydig oorweldigend en wonderlik gevoel het.


Daardie plasing, soos al die ander, het verlore geraak. So, nou dat ek weer begin - amper ’n jaar later - wou ek dit terugbring. Nie woord vir woord nie, maar hart vir hart.


Aan die Here

Dankie dat U my konstante bly wanneer alles anders om my verander.Dankie vir die vrede wat my gevind het in die stil 1-uur-voedings,

vir die Krag wat my deur trane gedra het wat ek self nie verstaan het nie

en vir die diep wete dat niks hiervan - die chaos, die liefde, die uitputting - ooit toevallig is nie.U is in dit alles.


Aan Armand

My liefste lief, my veilige plek, my beste vriend.Jy dra soveel meer as net jou deel - in die laat nagte, die vroeë oggende, en al die klein oomblikke tussen-in.


Jy het my ruimte gegun terwyl ek probeer het om myself in moederskap te vind,maar is altyd langs my as ek kant toe kyk.

Dankie dat jy my en ons dogtertjie so ongelooflik lief het.



“Dankie dat jy my en ons dogtertjie so ongelooflik lief het.”


Aan Amé

Ons liefste Amé By - jy het ons wêreld op sy kop gedraai op die mooiste manier moontlik. Jy het my geleer dat liefde in sy rouste, slapeloosste vorm so ongelooflik mooi is.


Ek weet daar is tye wanneer dit voel asof ek jou, of jou pappa, afskeep. Maar ek wil vir julle albei belowe: ek gaan harder werk om julle eerste te sit – ons gesin voor my werk, altyd. My werk is vir my belangrik. Dit is deel van wie ek is. En ek wil jou leer dat dit goed is om jou roeping met oorgawe na te jaag. Maar nog belangriker: julle is my hart. En ek wil hê julle moet dit sien en voel in hoe ek kies, hoe ek leef, en hoe ek liefhet.


Ek hoop jy weet dat jy na God se beeld geskape is, deel is van die kroon van Sy Skepping. Ek hoop jy vind jou balans tussen al die dinge wat vrou-wees behels: sagtheid en ambisie, stilte en ‘n stem, moederskap en “self-wees”.


Aan Ons Mense

Dankie dat julle opdaag op al die stil maniere - met kos, kuiers, boodskappe en geduld.

Ons Bezuidenhouts is so bevoorreg met elke een van julle in ons lewens.


Aan My Liggaam

Jy en ek het ’n ingewikkelde jaar gehad, né?Jy het so lank vreemd gevoel - gerek, geskeur, sag op nuwe plekke, en vreemd in die spieël.


Ek het te hopeloos te veel tyd spandeer om van jou te verwag om net “terug te spring,”wanneer ek eintlik vir jou moes dankie sê - vir die dra, vir die hou, vir haar.


Jy vind nog steeds jou ritme, en ek leer om geduldig met jou te wees.Ek belowe ek sal met meer sagtheid en liefde met jou praat.



“Jy het so lank vreemd gevoel - gerek, geskeur, sag op nuwe plekke.”

Aan My Werk

Dankie vir die genade wat met kraamverlof saamgekom het - vir die ruimte om net te wees.


Om terug te keer was gelyktydig vreesaanjaend en lekker.Ek het onthou dat ek goed is in wat ek doen, dat ek dit liefhet,en dat ek albei kan wees - ma én professionele mens (al voel dit party dae onmoontlik).


Nou, soos ek een hoofstuk afsluit en voorberei vir ’n nuwe, dapper stap in 2026,dra ek diep dankbaarheid vir elke les wat ek by julle geleer het.


Aan Jou, die Leser

Aan almal wat so getrou saamlees, selfs wanneer dit voel asof ek konstant agterraak - dankie.Jou stil teenwoordigheid hier beteken meer as wat ek kan sê.


Jy herinner my daaraan dat woorde steeds saak maak,selfs wanneer hulle verlore raak langs die pad.



Aan Bez & Kie

(Vir die wat dit nog nie gesien het nie – ons Bezuidenhouts het besluit om ‘n nuwe ding aan te pak – Bez & Kie is ‘n nuwe platform waar ons ‘n stukkie van ons mooi, chaos en alles tussen in met julle wil deel. Gaan verken gerus ‘n bietjie ons webtuiste en kuier saam!)


Hierdie een voel anders.Bez & Kie is nie meer net ’n kreatiewe uitlaatklep nie - dis iets wat ons van die grond af probeer bou.


Dit is deurmekaar en hoopvol en eg. Dit is gebore uit koppies chai, halfklaar idees op die kombuistoonbank,en laatnaggesprekke waar drome gelyktydig vreesaanjaend en moontlik klink.


Dit is oor ons - ’n gesin wat leer om met doel te leef,om die mooi in die gewone te vind,om saam iets te bou.

Ons wil hê dit moet soos ’n tuiste voel -’n plek waar mense ’n bietjie dieper asemhaal,’n bietjie harder lag,en onthou dat die lewe nie perfek hoef te wees om mooi te wees nie.


Ons wil ware stories vertel: oor werk en verwondering, kosmaak en reis, geloof en die gestotter van ouerskap.

2026 gaan die jaar wees waarin ons Bez & Kie ons beste gee.Nie omdat dit maklik is nie, maar omdat dit ons s’n is.En omdat sommige drome verdien om weer probeer te word.En weer.En weer.



“Nie omdat dit maklik is nie, maar omdat dit ons s’n is.”


’n Nota aan Myself

Miskien is dit wat hierdie alles regtig is - nie ’n nuwe begin nie, maar ’n terugkeer

’n Terugkeer na raaksien.

Na dankbaarheid.

Na sagtheid.

Na om aan te hou probeer, selfs wanneer jy al probeer het.


Want die lewe gaan nie daaroor om dit die eerste keer perfek te kry nie - dit gaan daaroor om weer en weer op te daag,met oop hande en ’n gewillige hart.


Liefde,

M

x              

3 Comments


Neovision
Mar 31

Ja Marné, ek ken van woorde verloor! In skrif en in daad. So waar dat die eerste skrywe wat velore gaan altyd meer diepte besit het, en wat soms nie weer so diep kan gedupliseer word nie. Het dit as self beleef. Mens tik jou hart uit en druk later net die verkeerde knoppie en dis weg. POEF...net so! Oorbegin voel amper geblus, so anders, so of die hart dit net eenmaal oorspronklik kon uitdruk. Maar, die weerdoen gee weer nuwe soms persepsie. Ja, die vlietende oomblik ontsnap beslis! Jy het dit so perfek gestel!

Like

petro.sandpatrys
Nov 20, 2025

Pragtig! Sterkte met die weer probeer🙏🏻 Aanhouer wen!

Like

christa.heymans
Nov 19, 2025

Uit jou hart is so suiwer en mooi! Jy maak my hartseer en trots - alles in een! Lief julle Bez&Kie xxxx

Like

Marné

IMG_3352_edited.jpg

Ek is 'n CA(SA) deur die dag, bosnimfie by hart. Hier by Spoons of Bez leef ek liefde vir kos, woorde en die mooi in die lewe ten volle uit!

#SpoonsofBez

© 2025, Bez & Kie

bottom of page