top of page

Van Pofadder tot by Hartebeesmond: Die Bosbezies se Helse Draai na Lambertsbaai, Dag 3 🌿🐞🪲

’n Versteekte juweel langs die Oranje

Daar is paaie wat jy ry om by ’n bestemming uit te kom… en dan is daar paaie wat self die bestemming word. Ons roete van Pofadder na die Namakwa Eco 4x4-roete se Hartebeesmond langs die Oranjerivier was presies so ’n reis.


Net buite Pella het ons ’n paar plaaslike kinders raakgeloop wat entoesiasties vir ons verduidelik het dat ons nie die gewone pad moet vat nie – ons móét deur Charlies' Pass ry, in die rigting van Klein Pella. En dit was die beste raad wat ons kon kry.


Soos die pad kronkel deur die droë Noord-Kaapse landskap, verander die wêreld skielik wanneer jy by Klein Pella uitkom. Tussen die sand en klip staan rye en rye indrukwekkende dadelbome – hoog, groen en amper onverwags in die dorre wêreld. Dit voel soos ’n klein oase wat stilweg sy eie storie vertel.


Maar die ware verrassing wag by Hartebeesmond.


Hier, waar die kranse uitkyk oor die breë groen strook van die Oranje, het ons ’n rukkie gaan sit en net kyk. ’n Trop bobbejane het ook besluit dit is ’n goeie plek om te rus. Vir ’n lang tyd het hulle net daar op die krans gesit – nuuskierig, rustig - amper asof hulle ons ook dophou.


Dis een van daardie plekke waar die tyd stadiger beweeg. Waar jy net sit, asemhaal en besef hoe ongelooflik mooi hierdie deel van Suid-Afrika is.


En dis presies hoekom ons lief is vir hierdie tipe paaie.


🛻🪲🐞🌿☀️

© 2025, Bez & Kie

bottom of page