

Ons het vertrek uit Tierhoek met daardie stil gevoel wat net die Richtersveld kan los.
Eers het ons nog ’n bietjie van die omgewing geniet – roofvoëls wat hoog sirkel en klein veldmuise wat vinnig tussen die bossies beweeg. Dis die tipe plek wat jou leer om stadiger te kyk.
Toe… verdwaal ons weer 😅En mis ’n stuk van die roete.
Ons besluit toe om eerder die hoofpad te vat na Alexanderbaai. Daar was iets aan Alexanderbaai wat ons getref het – amper soos ’n spookdorp. Stil. Half verlate. Maar net daar waar die Oranjerivier in die see invloei, is dit ongelooflik mooi.
Van daar het ons langs die kus afgery na Namakwa Nationale Park. En die landskap verander weer. Lae veldbossies. Seelug. Valke wat saam met die wind beweeg.
By Suidkamp Noord het ons oornag – koud en mistroostig na dae van hitte, maar met die konstante geluid van die see wat alles sag maak. Ons het die aand eenvoudig gehou: pita broodjies, ’n klein vuurtjie en die rustigheid van die Weskus. Steenbokkies het rustig deur die kamp beweeg.
Die volgende oggend het Amé eers nog bietjie in die sand gespeel voordat ons opgepak het.
Ons het verder langs die kus gery – van Groenriviermond na Lutzville. Dit was besonders om te sien hoe mense permanent hier leef, in tente, naby aan die see.
En toe, onverwags, loop ons weer die mense raak wat ons vroeër by Kamgab ontmoet het. Dis snaaks hoe paaie mense weer bymekaar bring.
Die laaste stuk langs die Weskus was net mooi. Eenvoudig mooi.
Ons het uiteindelik by Lambertsbaai aangekom…waar die avontuur stil raak en plek maak vir iets anders:
Kersfees saam familie.
En miskien is dit wat hierdie hele reis so spesiaal maak —die kontras tussen die niks van die Richtersveld en die volheid van tyd saam familie spandeer.
🛻☀️🌿🪲🐞🐝












